Konsepte: Wine and Dine
| Wat maak 'n Christen met allerhande
gedagtes, idees en norms wat daagliks opduik en wat sy of
haar lewe probeer binnedring of wil manipuleer? Waar kry
mens die waarheid en regte antwoorde en vanwaar kom daar
raad? Die maatstaf vir die gelowige bly Gods Woord. Die
Bybel belig alle aspekte van die mens se lewe, hetsy direk,
of oorkoepelend en oorsigtelik. Dit bly egter die gelowige
se dure plig om te bid, die Bybel te bestudeer en die
Heilige Gees te vertrou om mens te lei en te leer.
Vir ons volledige inleiding sien:
Konsepte: Volledige
Inleiding |
Konsepte wat onder die
soeklig kom is:

Daar het 'n geslag grootgeword wat leef asof mens nie
kan eet as jy nie kan wyn, bier of ander sterk drank daarmee saam gebruik nie.
'n Heerlike en smaaklike ete is 'n aangename manier om iets te vier,
(hoewel ook beslis nie die enigste manier nie), maar waarom die gedurige
aandring op die gebruik en oormatige verorbering van drank? Waarom
kroeg toe hardloop om geleenthede te gaan vier en waarom kaste en kaste
drank gaan koop, terwyl die geldjies in die huishouding juis so eina min is?
Daar is sommiges wat dan ook inderdaad die Bybel wil probeer
gebruik in 'n poging om hierdie dranksug-sonde te probeer verontskuldig.
So haal hulle gedurig aan en sê dat daar baie in die Bybel gepraat word van wyn. Ja,
daar word ook gepraat oor moord. Dit beteken nie dat die Bybel dit
goedpraat nie. Dit is waar dat daar in die Bybel gedeeltes is oor wyn,
maar die wyn wat algemeen gebruik was in Jesus se dae het waarskynlik
baie verskil van dié sterk alkoholiese soorte wat deesdae aangebied
word. Daar is geen twyfel dat die oormatige gebruik van sterk drank
veroordeel word nie. Paulus sê bv. "Moenie dronk word van wyn nie—daarin
is losbandigheid; maar word met die Gees vervul." (Efésiërs
5 vers 18)
Aäron en sy seuns mag nie wyn of sterk drank gedrink het
nie (Levitikus 10). Salomo sê tereg in
Spreuke 20 vers 1: "Die wyn is ‘n spotter, en
sterk drank ‘n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie
wys nie." Dit word ook afgekeur dat leiers in die kerk hulle vergryp aan
drank. (1 Timótheüs 3:8)
God woon in ons, sê
1
Korinthiërs 3. Hoe kan ons ons daaglikse take en bediening ten
volle en na behore verrig as ons liggame nog besoedel en deurdrenk is van gister se "lekker" bier en braai? Is alles wat ons doen dan nie maar
net bier- en wynpraatjies, as ons ons so vergryp aan alkohol dat dit nog
vir dae na die "party" soos oulap aan die asem bly hang nie? En wie
ly onder dié slegte gewoonte? Die onskuldige kindertjies, die
huweliksmaat en die vriende en familie wat eintlik eerder hulp en
Christelike ondersteuning nodig het, nie waar nie?
Wie baat by hierdie gesuipery? Die groot geldbase wat die
drank produseer, bemark en verkoop. Hulle voel vere vir jou as jou
lewer, hart of res van jou liggaam meegee en jy verslaaf raak. Hulle
voel niks en biggel nie 'n enkele traantjie as gesinne verbrokkel,
uitmekaar spat en lewens
verwoes word en projekte nie slaag nie. Vir hulle gaan dit enkel en
alleen om geld, hulle volgende Porsche en die weelderige, groot, nuwe
seiljag, waar hulle die "good life" net aan nog meer aanbied. Hulle is
verseker nêrens te siene as die talle dokters, verpleegsters,
sielkundiges, sosiale werkers, maatskaplike werkers en hulpwerkers sukkel
om die skade van verslawing te probeer herstel of te verlig nie.
Die koue bottel, mooi skemerkelkie in die oulike
"cocktail"-glasie, of blikkies in die hand word dan verruil vir die koue
gange van die siekekamer of hospitaalbed, waar jy in eensaamheid teen
die verslawing, pyn, siektes en kwale wat dit veroorsaak het, moet sukkel en veg.
Liewe vriend of vriendin, laat staan die drank! Roep uit na die Here
en draai weg. Kry professionele hulp as dit nodig is. Die oesland het
werkers met helder oë, wakker harte en gesonde liggame nodig.
Die opoffering is die moeite werd en ons sal dan kan
uitsien na die hemelse feesmaal wat ons daar saam met ons
Vader sal kan vier.
Besoek ook:

|