Opgedateer: 3 Februarie 2023

    

 

 

 

 

 

Konsepte: "Put your Money where your mouth is"

Wat maak 'n Christen met allerhande gedagtes, idees en norme wat daagliks opduik en wat sy of haar lewe probeer binnedring of wil manipuleer? Waar kry mens die waarheid en regte antwoorde en vanwaar kom daar raad? Die maatstaf vir die gelowige bly Gods Woord. Die Bybel belig alle aspekte van die mens se lewe, hetsy direk, of oorkoepelend en oorsigtelik. Dit bly egter die gelowige se ernstige plig om te bid, die Bybel te bestudeer en die Heilige Gees te vertrou om mens te lei en te leer.

Vir ons volledige inleiding sien: Konsepte: Volledige Inleiding

Konsepte wat onder die soeklig kom:

Moenie net praat nie, dóén ook!
"Put your Money where your mouth is"

Almal kla steen en been oor geld. Om elke hoek en draai is dit 'n gedurige geneul oor geld, geld, geld. Die tekorte daaraan, die val van markte, beurse wat teleurstel en beleggings wat die grond insypel. Dis inflasie, swendelaars, wen, wen, wen, loterye en "word-gou-ryk-skelmskemas".

Nuusflits: Groot hope geld is slegs 'n klein groepie mense se voorreg (... dalk eerder kruis) en as hulle nie hard woeker met dit nie, is hulle dit dalk binnekort ook alles kwyt. Dit is die aard van geld en goedere. Die eendag het jy dit, maar dit kan net so gou verdwyn.

Daar is 'n ou spreekwoord wat sê: “geld wat stom is, maak reg wat krom is”. Ja, dit moet mens erken, geld kan in sekere gevalle amper wonders verrig, maar mens moet tog ook die nugterheid hê om te weet dat daar baie aspekte van die lewe is waarmee geld nie juis hond haaraf kan maak nie. Geld kan byvoorbeeld nie verlore sentimente koop nie. Geld kan nie lewe skenk of lewe gee nie. Geld kan nie siekte in gesondheid omskep nie en geld beteken niks as jou naam skade gekry het nie. Geld kan ook nie liefde, geluk en vrede koop nie. Gaan kyk maar na die verhale van persone wat miljoene dollars gewen het op loterye. Baie van hulle is binne 'n kort tydjie slegter af as voorheen.

Mens moet jouself ook die vraag afvra, of dit nie in meeste van die wêreld ekonomieë veel beter sou gegaan het as mense nie so naganig, hoogmoedig en selfgesentreer was nie. Die neiging om alles nou en dadelik te kry in hierdie kitskoffiegeslag, het gelei tot die kredietkaart era. Dit het toegelaat het dat mense wat dit nie kan bekostig nie, groot somme geld mag leen vir totaal onbenullige en onnodige aankope. Die uiteinde is dat die hele gemeenskap meer moet betaal in rente en fooie, en inflasie word net aangeblaas deur dit alles.

As Christene moet ons ook onsself afvra of ons verantwoordelik leef met die genadegawes wat die Here ons skenk. Is ons 'n aanwins by ons werk? Werk ons nog hard en is ons produktief? Wend ons ons geld vir die korrekte dinge aan? Koop ons byvoorbeeld produkte van besighede wat die Here bespot of oneer aandoen, veral in hul smerige bemarkingsveldtogte? Bly ons maar die ou weeklikse tydskriffie koop, omdat dit eens op 'n tyd in die baie verre verlede tog nog sinvolle artikeltjies gehad het, maar nou net in afgewaterde tweede- en derderangse skindernuus ontaard het? Gee ons nog 'n behoorlike en pragtige dankoffer of kyk ons met 'n frons skuins weg as dit ter sprake kom?

Die vraag is, gee ons bydraes vir die sake wat ons as Christen behoort te doen, of gaan die geldjies veel eerder vir die toertjies na die sondige stede met hul casino's en dobbeltafels en talle ander afvallige "vermaak"? Vloei die geld na gemak, gerief, nog duurder meubels en onnodige nuwe gordyne, en bottels en bottels drank vir Saterdag se braai? Sien ek nog die sin daarin om uit my duisende genadegawes geld, tyd en aandag te gee aan die dinge wat ewigheidswaarde het?

Jy noem jouself 'n Christen. Leef jy dit voluit en met volle oorgawe uit? As Christene meer ure op hul knieë deurbring en meer begin vra wat die Here se wil vir hul lewens is en wat Sy wil is vir die pennies wat in hul beursie is, sal die ou wêreld 'n veel anderse plek wees. Die "ek-wil-dit-hê" en die "myne-myne-myne"-houdings is veels te erg onder gelowiges deesdae. Ongelukkig het baie Christene nou so lou en lamsakkig in hul geloof geword, dat daar kwalik 'n verskil tussen Christene en die wêreld se afvallige ongelowiges bestaan. By baie kerkmense sien mens 'n gretigheid en geld en tyd vir die dinge van die bose, en min tot geen tyd vir die Here en die hemelse koninkryk. Dankoffers bestaan uit die krummels wat van die tafel afval.

Dit het tyd geword dat Christene besef dat genadegawes wonderlike en uitermate groot geskenke uit die Here se hand is. As mens regtig, innig en opreg dankbaar is sal die hele wêreld dit weet uit jou optrede. Ons moet ophou net praat en praat en praat en nogmaals praat en veel eerder net dóén. Dink maar aan die vrou wat Jesus se voete gesalf het. Die reuk van die duur, kosbare en skaars parfuum het die hele huis vol gewees en almal het haar dankbare offergawe gesien.

Christen, laat hierdie nou 'n uitdaging wees vir jou. Begin vandág nog die onnodige uitgawes in jou lewe eenkant toe skuif. Begin kyk hoe jy ander Christene kan ondersteun met jou genadegawes en gee van jou aandag, tyd en dankoffers. Straks is daar 'n klein maar gedurige trek aan jou hart die afgelope maande om jou gesin beter te versorg. Dalk praat die Here al 'n geruime tyd met jou om 'n studiebeurs vir iemand daar te stel, miskien om van jou klere weg te gee vir die weduwee en haar jong seun daar onder op die hoek. Dalk moet jy 'n donasie stuur vir 'n Christelike groep of organisasie. Miskien moet jy vandag 'n karton vol kos inpak en vir 'n honger gesin gaan gee wat by die kerk kom aanklop het vir hulp. Iemand wat goeie werk doen het dalk jou kort briefie of boodskappie van bemoediging nodiger as wat jy mag dink. Dalk moet jy van jou tyd gee om 'n baba of kleuter op te pas, sodat 'n jong moeder net vir 'n halfuur vir haar ma of skoonmoeder kan gaan kuier. Jy is 'n Christen. Leef dit met meer dankbaarheid en doelgerigtheid uit en toon so aan die mense rondom jou wat ware Christenskap nou eintlik beteken.

Draai weg van instansies en produkte en dienste waar die Here nie geëer en respekteer word nie. Weerhou jou fondse, genadegawes, kosbare tyd en ondersteuning van afvalliges, godloënaars en Jesus-vervloekers en -bespotters en ondersteun eerder mede-gelowiges. Dit maak 'n veel groter verskil as wat mens dink. Maak jou oë oop Christen en sien dat daar ander kinders van die Here is wat ly en swaarkry en jou hulp nodig het. Jou selfbeheersing en beter hantering van jou fondse, tyd en aandag kán iets groots vir 'n ander gelowige beteken. Wys dat jy bereid is om jou woorde met dade van dankbaarheid op te volg en daadwerklik iets sinvols en goed te doen.

Laat daar van nou af 'n merkbare verandering in jou lewe te bespeur wees, veral in jou erns om nie meer geld en ander genadegawes te mors nie. Christen, “put your money where your mouth is” en maak seker jou hartsake, gedagtes, woorde en dade is ten volle en absoluut onder die Here se gesag en wet. Alles wat jy het is buitendien Syne en Hy weet alles, ook hoe jy jou geldsake of ander goeie gawes hanteer of wanaanwend.

Die Bybel sê nie dat rykdom op sigself 'n probleem is nie, maar dat die liefde vir geld die wortel van allerlei euwels is.(1 Timótheus 6:10) Daar is talle mense in die Bybel wat geseën was met baie aardse goedere en ander voordele. Ons Hemelse Vader gun ons goeie gawes. As ons egter nie goeie en getroue rentmeesters is met dit wat ons tans het nie, hoe kan Hy ons met meer vertrou? Ons moet eers die lesse leer en getrou werk, dan kan ons dalk gereed wees vir meer.

Dis ook goed om te onthou dat alles wat mens op hierdie aarde besit, agter gaan bly die dag as jy tot sterwe kom. Wat meer is, alles gaan uiteindelik tot niet gaan. Laat ons eerder sake ondersteun wat ewigheidswaarde het.

Maar soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Matthéüs 6:33

Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.
Matthéüs 6:19-21

En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.
Openbaring 20:12

 

 

Tuis
Die Liefde
Die Weg
Jesus is Koning
God is goed
Innerlike Gesprek
Ekumenies
Alle gelowe dieselfde?
Christen in Naam
Sing your Song
Regstellende Aksie
Liewers laat
BBP's
Put your Money
Vroueregte
Big Brother
Goue Handdruk
Handevat
Moederaarde
Wine and Dine

Op

 

'n Christen ...

ARK Web Design since 1998
ARK Webontwerp sedert 1998

Swallow Software

 Engel met kruis

Bekering

Bybelteks

Bible Text

ARK Webontwerp © 2007-2023  ARK Web Design © 2007-2023