Opgedateer: 3 Februarie 2023

    

 

 

 

 

 

Konsepte: Liewers laat as nooit

Wat maak 'n Christen met allerhande gedagtes, idees en norme wat daagliks opduik en wat sy of haar lewe probeer binnedring of wil manipuleer? Waar kry mens die waarheid en regte antwoorde en vanwaar kom daar raad? Die maatstaf vir die gelowige bly Gods Woord. Die Bybel belig alle aspekte van die mens se lewe, hetsy direk, of oorkoepelend en oorsigtelik. Dit bly egter die gelowige se ernstige plig om te bid, die Bybel te bestudeer en die Heilige Gees te vertrou om mens te lei en te leer.

Vir ons volledige inleiding sien: Konsepte: Volledige Inleiding

Konsepte wat onder die soeklig kom is:

Liewers laat as nooit

17 Oktober 2017

Liewers laat as nooit

Die meeste van ons, selfs mense wat maar net onlangs hul harte en lewens vir die Here gegee het, ken die pragtige verhaal van die verlore seun (Lukas 15:11-32). Wat treffend is van hierdie roerende verhaal is dat die vader met verlange gewag het vir sy seun se terugkeer na die veilige hawe van die vaderhuis.

So baie keer brand mens brûe en breek verhoudings en sukkel dan met jou eie koppige, afvallige weg aan, uitsluitlik en alleen omdat die trotsheid jou baas geword het. Soms is daar hartseer ouers, vriende en familie wat bly bid vir harte wat moet bekeer, of herlewing wat in 'n geliefde se siel moet ontwaak, maar die lang wag bly 'n moeilike en uiters uitputtende saak.

As gelowiges moet ons egter nie moed verloor en vergeet van sulkes nie. Nee, ons moet aanhou bid, aanhou volhard in gebed. As die deurbraak kom en die afvallige kind of verdwaalde geliefde tot sy of haar sinne kom, sal daar groot vreugde wees.

Toe Saulus op pad na Damaskus was, was sy ontmoeting met die Here 'n kragtige saak en het wonderlike vrugte uit daardie bekering voortgespruit. Ons ken Saulus veel beter as Paulus, die man wat sy roeping as sendeling letterlik tot die dood toe ernstig opgeneem het. Paulus was nie een van die binnekring van Jesus se dissipels nie, maar sy bekering lei daartoe dat hy baie briewe van teregwysing en bemoediging vir gemeentes skryf, wat sowat 'n kwart van die Nuwe Testament uitmaak. Paulus was traag om Jesus as Redder aan te neem, selfs heftig vyandig teenoor Jesus en Sy volgelinge. Toe hy wel uiteindelik tot bekering gekom het, het sy lewe voluit getuig van sy bekering en sy volle oorgawe aan God.

Nie almal van ons ken die Here as Redder as ons klein is nie. Nie almal is so bevoorreg om in 'n gesin waar God geëer word, groot te word nie. Baie het ook nie ouers en grootouers gehad wat ons van Jesus ons Redder vertel en geleer het nie. Party van ons het eers later, toe ons ouer was, begin dink oor ons menswees, wat die lewe nou eintlik beteken en wie ons Skepper is.

Moenie daaroor ontsteld word as jy eers later in jou lewe die Here aangeneem het as Saligmaker nie. Baie moet deur trane, opofferings en smarte op die regte Weg kom, want die Bybel sê Jesus Christus is die ENIGSTE weg.

Daar is ook 'n spreekwoord wat sê: “Liewers laat as nooit.” Dit is wel so dat mense wat laat in hul lewe bekeer het, gewoonlik die pyn van verlies voel, omdat die talle geleenthede om die Here te dien en die Evangelieboodskap uit te dra, verspil en misgeloop is. Dit moet geestelike laatslapers egter net nog meer motifeer om die Bybelse boodskap met nog meer erns en toewyding uit te dra.

Weet ook maar net tyd loop uit, dis dalk later as wat jy mag dink en die oesland is ryp en gereed vir oes. Kyk om jou heen, staan op en help met die werk op die oesland. Moenie skaam wees of wonder oor jou bydrae as kind van die Here nie. Bid, staan op en beginvandag met die take wat die Here al lank voor jou geboorte en bekering, vir jou voorberei het. Pak die take met volle geloof, oorgawe en met 'n dankbare en eerlike hart aan.

Jesus sê: “As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.”(Johannes 12:26)

Daar is 'n gejuig as 'n siel tot bekering kom. (Lukas 15:10 -- So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.)

Neem nou jou regmatige plek as kind van die Here in. Glo, werk en loof die Here vir elke geleentheid wat jy gegun word om iets tot eer van ons Vader se Naam te doen. Dis 'n onuitspreeklike voorreg.

Op 3 November 1980 gee 'n bekende evangelis sy Bybel aan die befaamde akteur van oa die flim “The Great Escape”, Steve McQueen. Hierdie oorhandiging vind net 4 dae voor Steve McQueen se dood plaas.

Drie weke voor sy dood word daar 'n audio opgeneem waar McQueen die volgende sê:
“I want to change some people’s lives somehow, to tell people that I know the Lord, I used to be more macho. And now my body is gone, is broken. But my spirit isn’t broken.” (Uittreksel:Charlotteobserver)

Nou, 36 jaar plus na sy dood, is daar 'n dokumentêre film gemaak oor sy lewe.
'n Getuienis uit die verlede wat harte, deur die inwerking van die Heilige Gees, kan aanraak in die hede.

Moenie wag tot jou uurglas byna uitgeloop is nie. Laat vaar jou koppige, eiesinnige luiheid en nalatigheid. Steek jou gemaksug, trots en verleë wees in die sak, want daar is dringende sake wat veel meer van belang is. Tyd is kosbaar. Duisende siele is op pad na die hel. Jou verhaal en lewe van geloof in ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus, kan dalk net die verskil maak. Begin nou, want liewer laat as nooit. Ondersoek jou gesindheid en maak jou saak voluit reg by God. Geloof in Jesus Christus is 'n persoonlike verhouding, nie 'n ritueel, seremonie of maar net nog 'n godsdiens nie. Gee jou hart en lewe voluit vir Jesus Christus, Gee die Heilige Gees die kans om in en deur jou lewe te werk. Doen dit nou en juig oor die Here wat die opregte en goeie saad wat jy saai, gaan laat groei en laat vrugte dra op die heel beste tyd.

Die mens is koppig, sondig en eiesinnig en hardloop dikwels weg van sy verhouding met sy Skepper. God is nooit te vroeg of te laat nie. Hy maak nie foute nie. Nee, Hy is gewis altyd betyds en weet wat Hy in Sy Meesterplan vir Sy kinders beplan en wil uitvoer.

Wees egter baie versigtig, ondersoek jou hart, kry die regte gesindheid en moenie soos die vyf dwase maagde in Matthéüs 25 maak nie. Wees gereed vir die ewigheid hierna. Daar is net twee keuses: 'n Ewige lewe in die liefdevolle teenwoordigheid van God, of die tweede dood, ontneem van alle liefde en genade van God.

Alles het 'n bepaalde uur, en van uitstel kom dikwels afstel. Na jy jou laaste asem uitgeblaas het, is daar geen tweede kans soos so baie ongelowiges wil beweer nie. Geen geld, aflaatbriewe of aanhoudende gebede van jou kinders, kleinkinders of vriende ná jou dood, kan jou keuse vir of teen Jesus en ewige bestemming verander nie. Dis jóú eie persoonlike keuse of jy Jesus nou wil aanneem en Hom vertrou om jou Saligmaker en Verlosser te wees. As jy Hom nog nie aangeneem het nie, moenie die Heilige Gees meer verder bedroef nie. Kom na die Here en lê jou lewe, talente en gawes en al jou sondes voor Hom neer. Die keuse vir Jesus is van ewigheidsbelang!

Jesaja 33:2
HERE, wees ons genadig, op U wag ons; wees hulle arm elke môre,
ja, ons verlossing in die tyd van benoudheid!

Wil jy meer weet oor bekering? Besoek die webtuiste Gee Hom jou hart.
 

 

 

Tuis
Die Liefde
Die Weg
Jesus is Koning
God is goed
Innerlike Gesprek
Ekumenies
Alle gelowe dieselfde?
Christen in Naam
Sing your Song
Regstellende Aksie
Liewers laat
BBP's
Put your Money
Vroueregte
Big Brother
Goue Handdruk
Handevat
Moederaarde
Wine and Dine

Op

 

'n Christen ...

ARK Web Design since 1998
ARK Webontwerp sedert 1998

Swallow Software

 Engel met kruis

Bekering

Bybelteks

Bible Text

ARK Webontwerp © 2007-2023  ARK Web Design © 2007-2023