Opgedateer: 3 Februarie 2023

    

 

 

 

 

 

Konsepte: BBP's of "VIPs"

Wat maak 'n Christen met allerhande gedagtes, idees en norme wat daagliks opduik en wat sy of haar lewe probeer binnedring of wil manipuleer? Waar kry mens die waarheid en regte antwoorde en vanwaar kom daar raad? Die maatstaf vir die gelowige bly Gods Woord. Die Bybel belig alle aspekte van die mens se lewe, hetsy direk, of oorkoepelend en oorsigtelik. Dit bly egter die gelowige se ernstige plig om te bid, die Bybel te bestudeer en die Heilige Gees te vertrou om mens te lei en te leer.

Vir ons volledige inleiding sien: Konsepte: Volledige Inleiding

Konsepte wat onder die soeklig kom is:

Baie Belangrike Persone (BBP's of sg. "VIPs")

Dis nou die soveelste keer wat jy hom vandag sien uitry met sy blink sportmotor.Kaleidoskoop: VIP's Die groot huis waar hy en sy gesin woon, sit knus teen die heuwel en kyk uit op die strand aan die een kant. Die uitgestrekte tuin het 'n kolossale, spoggerige swembad. Daar word gereeld skemerkelkie-aande gehou, en die uitgesoekte gaste word met groot, luukse motors aangery.

Die vrou van die huis lyk soos 'n filmster en haar voorkoms is so reg uit een van die modetydskrifte. Die hare is kunsblond, die vingers is vol duur diamantringe en die ongelooflike laehalsrokke word ingevoer vanuit Milaan en Parys. Die opgeskote kinders van hierdie befaamde gesin, presteer glo vreeslik goed en ry elk alreeds hul eie duur voertuie. 'n Hele aantal bediendes moet bontstaan om al die lede van hierdie "perfekte" gesin gelukkig te hou.

Dis duidelik dat daar geen tekort aan geld is nie. Die man moet sekerlik 'n baie belangrike persoon wees en as mens op uiterlike sou oordeel, lyk dit soos die tipiese droomgesin wat die media so graag as voorbeeld aan die wêreld voorhou. Vooruitstrewend en baie suksesvol.

Die ironie van die saak is egter dat hierdie gesin eintlik maar net 'n warboel van selfsug, ongeloof en doellose bestaan is.

Wie sien as die vrou in die diep donker nagte sit en saggies huil, omdat haar man haar nie meer wil hê nie? Wie weet van haar frustrasie-trane, omdat sy getrou het vir geld, aansien en gewildheid, maar dat dit nou alles besig is om soos 'n kaartehuis inmekaar te tuimel?

Hoe min weet mense van die ryk man en sy spoggerige gesin. Min van sy hooggeplaaste vriende weet van die manipulasie en magsmisbruik by sy kantoor teenoor sy werkers en minderes. Sy onderduimsheid en gedurige pogings om die "regte" netwerke te skep met die "regte" soort persone en absoluut ten koste van enigiets! Net dié wat hom baie goed ken weet van sy gereelde sukses om reg en geregtigheid te ontduik deur skelmstreke, omkopery of afpersery. Wie weet van die tye wat die man se gedagtes en dade dwaal tussen smerige webwerwe waar naaktheid en vullis die botoon voer?

Wie sien hoe die jong seun van hierdie welvarende gesin sy neus stukkend snuif aan dwelms en jong meisies meedoënloos molesteer as hy die kans kry? Wie weet dat die lenige dogter haar kos vinniger uitbraak as wat sy dit geëet het?

Die gesin is verbrokkel, gebroke, stukkend, verdeel en op die afdraande weg. Hulle verrinnewee hulself en hul naaste. Hul leef sonder God of gebod en betaal reeds 'n duur prys vir dit, en as daar nie bekering kom nie, sal dit tot die hel lei.

Oor die algemeen sien die gemeenskap egter net die uiterlike van sulke gesinne raak en niks meer nie. Die baie belangrike persoon/BBP se lewe word vir die sosiale gemeenskap 'n soort droom om na te streef en die BBP's word helde vir baie wat te lui is om dieper te kyk.

So 'n afvallige en leë gesinslewe staan in skrille kontras met dit wat Jesus beskou het as belangrik. Die Here oordeel anders en kyk nie na die uiterlike nie. Kom ons kyk wat Jesus gesê het toe die dissipels vir hom vra wie die grootste in die koninkryk van die hemel is.

In daardie uur het die dissipels na Jesus gekom en gesê:
Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele? Toe roep Jesus 'n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie,
 hy is die grootste in die koninkryk van die hemele. Mat 18:1- 4

Jesus eindig hierdie gedeelte deur te sê: "Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is." Mat 18:10

Laat ons met erns weer alles wat ons in ons lewens doen, heroorweeg en kyk of dit in die Christelike lewensnormes is waar dit behoort te wees. Doen ons ons dagtake met verantwoordelikheid? Leef ons ons lewens met sorg en in geloof en dien ons die Here sonder skynheiligheid? Maw, strook ons lewens met dit wat ons uit die Bybel leer?

Ons moet mooi nadink en moet nooit vergeet nie, almal wat die Here Jesus aangeneem het as Redder, is BAIE BELANGRIKE PERSONE, BBP's, "VIP's". Ons was en is so belangrik dat Jesus bereid was om die wrede kruisdood vir ons sondeskuld te betaal, sodat ons die ewigheid met Hom kan deel. Laat ons nie die genadegawes wat ons daagliks uit God se hand ontvang, vermors op twak en ydele praatjies en 'n gespartel oor of vir dolleë goed nie. Laat ons erns maak met die lewe wat die Here ons bied. Hy het ons met 'n doel voor oë geskep. Laat ons die Here dien met ons volle hart en siel en gees en God's Woord daagliks lees en in gebed die Vader dank vir die kruisdood wat Jesus vir ons sondes moes dra. Kom laat ons skoon, sinvolle en produktiewe lewens leef, tot eer van ons Here.

Markus 9:35
En toe Hy gaan sit het, roep Hy die twaalf en sê vir hulle: As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees.

Matthéüs 18:3
en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!

Matthéüs 11:11
Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.

 

 

 

Tuis
Die Liefde
Die Weg
Jesus is Koning
God is goed
Innerlike Gesprek
Ekumenies
Alle gelowe dieselfde?
Christen in Naam
Sing your Song
Regstellende Aksie
Liewers laat
BBP's
Put your Money
Vroueregte
Big Brother
Goue Handdruk
Handevat
Moederaarde
Wine and Dine

Op

 

'n Christen ...

ARK Web Design since 1998
ARK Webontwerp sedert 1998

Swallow Software

 Engel met kruis

Bekering

Bybelteks

Bible Text

ARK Webontwerp © 2007-2023  ARK Web Design © 2007-2023